top of page
Search
ngermelomoeder

'n Koppie warm evangelie

Vanjaar, op wêreldbiddag vir vroue, het elke vrou 'n gewone wit koppie gekry. 'n Gewone wit koppie om te versier en mooi te maak net soos sy wou. Sommige vrouens het gelag vir hoe skeef en krom hulle prentjies uitgekom het, sommige vrouens het oor en oor die lyntjies uitgevee en weer probeer en sommige vrouens het met gemak die mooiste kunswerke geteken. Teen die tyd wat al die koppies versier is, was daar nie 'n enkele lelike koppie nie. Elke koppie was mooi. Elke koppie was uniek. Elke koppie was spesiaal. Soos die koppies daar staan, het ons reeds geweet, elke koppie se paadjie gaan anders loop. Sommige koppies gaan jare lank, ongebruik, agter in die kas staan. Sommige koppies gaan 'n keer of wat gebruik word en dan kraak, chip of breek. Sommige koppies gaan vir jare gebruik word, sonder enige skade. Alhoewel elkeen se paadjie anders gaan loop, is elke koppie geskep met dieselfde doel - om 'n warm drankie te hou. God se kinders is soos hierdie koppies. Ons lyk nie dieselfde nie, sommige van ons is vaal en ander helderkleurig, sommige van ons is eenvoudig en ander dramaties, sommige van ons is maar net....maar tog is ons almal geskep met dieselfde doel - ons moet die warmte van die evangelie binne ons hou en dan in die wêreld versprei. Sommige van ons gaan chip en kraak en breek langs die pad, maar ten spyte daarvan moet ons ons integriteit behou. God het ons nie geskep om agter in 'n kas te staan en stof opgaar nie. Ons is geskep om die warmte te versprei. Ons is geskep om te getuig en God se liefde uit te leef. Psalm 139:13-14 leer ons "U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering."

Mag jy elke dag hierna na die "koppies" van die wêreld kyk in verwondering. Mag jy onthou dat jy op 'n wonderbaarlike wyse geskep is. Mag jy elke dag leef asof jy die heel, heel mooiste koppie is - want jy is!


17 views0 comments

Comments


bottom of page